Ansie van Deventer

Ansie is ‘n toegewyde ma van twee met ‘n passie vir die verhaalkuns. Haar eerste boek, Die Groentetuin, het in 2023 verskyn. Met ‘n talent om betowerende verhale te weef vind sy haar inspirasie in die wêreld van fabels en sprokies. Wanneer sy nie verbeeldingryke stories uitdink nie, gun sy haarself ander kreatiewe strewes – tuin maak, klere ontwerp, liedjies en gedigte skryf, en musiek maak. Deur haar boeke hoop Ansie om die verbeelding van die jongspan aan te wakker en ‘n liefde vir die magie van lees by hulle te kweek.
Christina van Deventer

Christina van Deventer is ‘n skrywer, vertaler en grafiese kunstenaar wat in haar vrye tyd Xbox speel, in die natuur stap of reis. Haar gunsteling plek is in haar verbeelding-woud, waar al die diere vriende is en waar sampioene soos jellie-boontjies smaak. Christina dra elke dag ‘n warm hoed want sy woon in Ysland saam met haar man, Dr. Bragi Þór Valsson, ‘n regte egte Viking!
Meer oor Ansie en Christina
Ma-en-dogter span, Ansie- en Christina van Deventer se eerste gesamentlike kinderboek het met ‘n enkele gedagte begin. Nadat Ansie alreeds vir jare optree as Christina se proefleser en redigeerder wanneer sy aan haar eie projekte werk het sy eindelik besluit om self pen in die hand te neem.
“My begeerte was om iets saam met my dogter te publiseer. Aanvanklink het ek gedink ons kan ‘n digbundel uitgee, maar terwyl ek ‘Die Groentetuin’ geskryf het, het ek besef dat dit goed kan werk as ‘n kinderboek. Ek het toe vir Christina gevra om die boek te illustreer.”
Maar dit was nie aldag so maklik gedoen as gesê nie. Ansie woon in Suid Afrika, terwyl Christina in Ysland woon. Hoewel ma en dogter gereeld via video-oproep kommunikeer laat moderne tegnologie wel soms ‘n gaping wat makliker in die persoon oorbrug sou kon word. Nietemin, met geduld kan selfs die langste kragonderbreking of die swakste internetspoed oorkom word!
Ansie, wat 73 is, sê dit is vir haar ‘n mylpaal om op hierdie ouderdom dié nuwe hoofstuk in haar lewe te begin en so ook ‘n nalatenskap agter te laat.
“Ek wens ek kon dit al jare gelede doen, maar miskien sou dit nie vir my dieselfde betekenis inhou indien ek dit wel vroeër kon uitrig nie”.
Met Ansie se inspirasie het Christina die groot sprong geneem en werk nou voltyds as skrywer en kunstenaar. Ma en dogter werk ook deurentyd aan nuwe idees vir lekkerlees pret vir die jongspan.

